Wie Is Ons

WAAR KOM PRESIDENTSOORD VANDAAN? Die NG Gemeente Presidentsoord is op 3 November 1966 van die NG Gemeente Springs-Noord af gestig. As bruidskat het Presidentsoord van Springs-Noord 'n ten volle afbetaalde pastorie in Robertsonstraat en 'n kontant bedrag van R4 000 ontvang. Die eerste leraar van die nuwe gemeente was Ds J.I. du Toit Naude en hy het diens aanvaar op 2 Januarie 1967.

Nadat daar aanvanklik van die fasiliteite van die moedergemeente (Springs-Noord) gebruik gemaak is, word daar met die toestemming van die Oos-Randse Skoolraad en die Skoolhoof, mnr S.L. Mostert vanaf 16 April 1967 van die skoolsaal en klaskamers van die Laerskool Jan van Riebeeck vir eredienste, vergaderings en kategeseklasse gebruik gemaak. Hierdie toestand sou, met 'n kort onderbreking tussen Maart en Oktober 1968, waartydens in die Hoër Meisieskool Hugenote vergader is weens reparasies aan Laerskool Jan van Riebeeck, voortduur tot 27 Mei 1972 toe die nuwe Kerkkompleks in gebruik geneem is.

'n Paar finansiële interessanthede van hierdie beginjare was die volgende: die maandelikse inkomste van die gemeente was ±R800; die leraar se salaris was R2 280 per jaar; die jaarlikse begroting was R18 650 en die motortoelaag van die leraar was R60 per maand.

Op 10 Augustus 1967 is 4 erwe van die Suid Afrikaanse Sproorweë aangekoop en op 2 November 1970 word die eerste sooi vir die nuwe Kerkkompleks gespit. Die vennootskap van Daan Kesting word op 29 Mei 1968 as argitekte aangewys. Op 11 September 1971 word die hoeksteen van die Kerk deur Ds J.I. du Toit Naude gelê met as teks Ef. 2: 20, "Christus self is die Hoeksteen".

Nadat daar vir soveel maande reikhalsend uitgesien is na die ingebruikneming van die nuwe fasiliteite, breek die groot dag uiteindelik aan. Oor die naweek van 26-28 Mei 1972 beleef die gemeente groot mylpale in sy geskiedenis. Op die aand van 26 Mei word die saal oopgesluit en met 'n verskeidenheidskonsert ingewy. By die inwyding van die Kerkgebou op Saterdagmiddag om 14h00 vergader die gemeente eers in die skoolsaal van Laerskool Jan van Riebeeck en loop daarna in 'n optog via Munroweg oor die park na die Kerkgebou met die leraar en die Kerkraad aan die voorpunt. Op Sondag 28 Mei 1972, vind die eerste diens (nagmaal) in die nuwe Kerkgebou plaas.

Dis nou op die 3de November 2012, 46 jaar nadat die gemeente afgestig is. In hierdie tydperk het die volgende leraars die gemeente bedien: Ds J.I. du Toit Naude (1966-1973 en weer as hulpleraar 1985-1987); Ds J.T. du Preez (1974-1979); Ds F.E. Kemp (1979-1982); Dr J.D.P.P. Ferreira (1983-1986); Ds H.F. Olivier (1986 - 1994); Ds J.B. Lourens - as eerste mede-leraar (1987-1990 en weer vanaf 1995 - tans nogsteeds die leraar); Ds H. Viljoen (1990-1994); Ds C. Saayman (1994-1997). Die huidige leraar is Ds Jan Lourens wat vir 'n tweede keer in 1995 na die gemeente beroep is. Getalle het oor die jaar ook baie gekrimp a.g.v. van veroudering en lidmate wat die gemeente verlaat en hulle elders in aftreeoorde of in ander dorpe gaan vestig het. Dooplidmate het van 450 in 1987 tot ongeveer 60 in 2012 gekrimp